Besoek Wonderboom Natuurreservaat

Geleë in die Noorde van Pretoria sal jy Wonderboom Natuurreservaat vind, en dit is perfek om vir ’n rukkie van die stad om jou te vergeet.

Vir natuurliefhebbers kan lewe in ’n beton oerwoud soms effens bedruk voel. Maar dit is dalk nie so erg in ou Pretoria nie. Een van die beste dinge van ons hoofstad is og die magdom natuurreservate wat in en rondom die stad lê.

’n Paar interessante dinge

Wonderboom Natuurreservaat, wat ’n uitspansel van ongeveer 200Ha dek, is bekend vir die ‘Wonderboom’ wat daar groei. Hierdie ‘wonderboom’ verwys natuurlik na die reuse 1000-jaar-oue wilde vyeboom (Ficus salicifolia) wat mens in die reservaat sal vind.

Daar is baie legendes aan hierdie boom en sy reusagtigheid gebonde. Een van hierdie vertel dat die Wonderboom so groot gegroei het omdat ’n hoof van ’n ou inheemse stam onder die wortels van die boom begrawe is. Daar word ook soms gesê dat as ’n verliefde paartjie onder hierdie boom ’n soentjie deel, dan sal hul liefde ’n duisend jaar lank hou. Daar word selfs beweer dat die Wonderboom eens veel groter was, maar dat sy grote afgeneem het weens ’n vuur wat in die 1870’s plaasgevind het, of weens ’n moontlike parasitiese besmetting wat die boom onder 20-jaar se kwarantyn gelos het.

Nog ’n heel bevange ding wat mense in die Wonderboom Natuurreservaat kan besigtig is die oorblyfels van Fort Wonderboom. Fort Wonderboom is gebou tydens die Suid-Afrikaanse oorlog (1899 – 1902) en weer opgeblaas in aan die begin van die tweede wêreld oorlog. Dit behels ’n effe uitdagende staptog om daar uit te kom, maar dit is die moeite werd.

Wat om te doen?

As jy lief is vir stap, is hierdie beslis die plek vir jou. Daar is die lekkerste staproetes wat jy kan volg om die reservaat te verken. Dis bitter belangrik om gemaklik aan te trek, want hierdie plek kan jou vir ure besig hou. Jy kan die Wonderboom bestudeer en na die greaamte van Fort Wonderoom gaan loer. Daar is ook ’n magdom diere en voëls wat jy sal sien tydens jou verkenning van die reservaat. As jy lief is vir voëlkyk, onthou tog om daardie verkyker in te pak, nê! ’n Kamera is ook ’n goeie idee – daar is tonne mooi dinge om te sien. Die reservaat bevat tonne dassies wat in die grotte duskant die Apiesrivier bly. Daar is ook ’n paar swart arende wat ’n tuiste gemaak het in die reservaat.

Wonderboom Natuurreservaat is ook ’n pragtige plek vir ’n piekniek saam jou familie of vriende. Pak ’n mandjie vol lekkernye en vind ’n gemaklike plekkie in die piekniek area vir ’n rustige middag. Daar is selfs braaiplek, so mens kan ’n smaaklike middagete aanmekaar slaan terwyl mens ’n bietjie son en samesyn geniet.

Elke stad kort so ’n lekker stukkie bosveld in sy midde, of hoe? Ons hoop jy geniet jou uitstappie na die reservaat en stap daar weg met net mooi herinneringe en dalk ’n goeie storie of twee. Vir meer informasie oor die reservaat, kliek hier. Was jy al daar? Wil jy graag gaan? Laat ons weet wat jy dink van Wonderboom Natuurreservaat in die kommentaar hieronder.