Bobaas Boeremarkte in Pretoria

Meeste mense deesdae is darem maar stout vir ’n lekker mark. En wat beter as ’n boeremark wat ietsie van alles verkoop – van vars kos en kosprodukte tot handwerk, kuns, en klere. Pretoria het definitief geen tekort aan markte nie, en markte besoek is ’n goeie geleentheid om jou gemeenskapslede en plaaslike entrepreneurs te ondersteun. So, kry gerus jou mense bymekaar vir ’n lekker uitstappie na jou gunstelling boeremark. Hier is ’n paar bobaas boeremarkte in Pretoria.

Die Pretoria Boeremark

Wel, in ’n lys van boeremarkte is die Pretoria Boeremark mos ’n natuurlike eerste keuse. Jy sal vroeg uit die kooi uit moet glip om hierdie juweel in sy volle, vars glorie te beleef. Maar die vroeë oggend is beslis die moeite werd, en jy kan jou vaak lyf troos met een van die lekkereste koppies boeretroos daardie kant van Pretoria. Die mark spog met die varste groente en vrugte reguit van die plaas af. Daar is die smaaklikste kosse om vir ontbyt te tand, en talle handgemaakte ditjies en datjies wat jou oog sal vang. Die Boeremark is ook ’n goeie plek om die mooiste blomme op te spoor – dit sal sommer jou dag totaal opkikker. Die Boeremark is ’n ware wenner en is elke Saterdag aan vanaf 5.30 am tot 9.30 am.

Vir meer informasie oor die Pretoria Boeremark, besoek hulle webwerf, skakel 012 804 8031, of stuur ’n e-pos na ptaboeremark@tlu.co.za.

Waar? 670 Krige St, Silverton, Pretoria. Ingang: Moreleta Straat // Uitgang: Krige Straat

Waenhuiskrans Plaas Mark

Waenhuiskrans Plaas Mark is nog ’n wonderlike boeremark in die Noorde van Pretoria wat jy kan geniet. Hulle bied elke Saterdag vars groente, vrugte, en ander kosprodukte aan, asook kledingstukke en pragtige, interessante handwerk. Die atmosfeer is rustig en daar is altyd ’n bietjie musiek om die bui op te bou. Die Waenhuiskrans Plaas Mark is ’n lekker, veilige plek om rond te wandel en inkopies te doen saam met jou familie en vriende. Jy kan die plaasmark elke saterdag tussen 8 am en 2 pm verken.

Vir meer informasie oor die Waenhuiskrans Plaas Mark, besoek gerus hulle webwerf of hul Facebook Blad, of skakel 084 505 3393.

Waar? 0186 Enkeldoorn Ave, Montana, Pretoria, 0182

Centurion Farm Stall Market

Centurion se Plaasstalletjie Mark is ’n lekker stukkie boeremark in die midde van die stad. Die boeremark bied lekker vars groente, vrugte, kosprodukte, en gebakte lekkernye aan. Jy sal ook die sappigste boerekosse hier te ete vind. Meer as kos, bied talle stalletjies ook ’n wye verskeindenheid van verskillende handwerk en kunsprodukte, asook juweliersware, blomme, speelgoed en veel meer. Jy sal beslis iets interessants hier vind. Die mark is elke Saterdag tussen 9 am en 2 pm aan die gang, so bring gerus jou geliefdes vir ’n lekker uitstappie.

Vir meer informasie oor die Centurion Farm Stall Market, besoek gerus hul webwerf of hul Facebook Blad, of skakel 079 092 2023.

Waar? Op die hoek van Lyttleton Rd en Fairway Avenue, Clubveiw, Centurion

Cowhouse Mark

Die Cowhouse Mark is nog ’n prettige naweek-mark in die Ooste wat ’n sagte plekkie in Pretorianers se harte gevind het. Die mark voel soos ’n moderne boeremark, en spog met bobaas kos, verfrissende drankies, en ’n verskeindenheid oulike, unieke hand- en huisware. Die mark se atmosfeer is altyd gesellig, die musiek lekker, en die mense vriendelik. Daar is genoeg vermaaklikheid vir die kinders, insluitend ’n opwindende fietsrybaan vir hulle om te geniet – so onthou om daardie fietse in te pak! Cowhouse is ’n gunstelling plek vir vele families en vriende vir ’n lekker dag se samesyn. Die mark is elke Saterdag en Sondag van 10 am tot 4 pm aan die gang.

Vir meer informasie oor die Cowhouse Mark, besoek gerus hul webwerf, Facebook Blad, of skakel 072 399 0154.

Waar? Ridge Road, Hazeldean, Pretoria, 7530

Ons hoop dat jy en jou hartsmense díe naweek (en sommer die een daarna) een van hierdie bobaas boeremarkte in Pretoria sal besoek. Dit is die perfekte manier om bietjie die stres van die werksweek te laat gaan en te ontspan met musiek, samesyn, interessante kopies en smaaklike kos. Wat is jou gunsteling aspek van ’n naweek boeremark? Laat weet ons asseblief in die kommentaar.