Bobaas Boeretroos in Pretoria

Koffie is ’n avontuur op sy eie - van die oomblik wat mens die koffiebone maal, tot die reuk wat mens se reuksintuig kielie, tot die finale produk: ’n vars koppie boeretroos.

Daar is niks so fantasties soos ’n slukkie boeretroos om jou dag ’n hupstoot te gee nie. Of so voel baie van ons. Ons het ’n paar plekke in Pretoors opgespoor waar jy darem ’n bobaas koppie boeretroos kan geniet. Hier is van die beste boeretroos in Pretoria.

Boeremark op ’n Saterdag

Natuurlik sal die Boeremark eerste op die lys wees – waar beter dan om egte boeretroos te vind as by ’n Boeremark? Jy dink dalk dis te vroeg om op te staan, maar glo ons vry: jou saterdae sal skoon bons na ’n lekker koppie boeretroos by die Boeremark.

Vir meer informasie oor die Pretoria Boeremark, besoek hulle webwerf, skakel 012 804 8031, of stuur ’n e-pos na ptaboeremark@tlu.co.za.  

Waar? 670 Krige St, Silverton, Pretoria. Ingang: Moreleta Straat // Uitgang: Krige Straat

Ginger & Fig

Ginger & Fig is ’n klein spogkafeetjie wat in Hatfield versteek lê. Hulle koffie is werklik iets om aan te smul. Die koffiebone is altyd lekker vars gemaal en hulle het altyd ’n verskeidenheid varsgebakte soetighede wat jy saam met jou boeretroos kan geniet. As jy gelukkig is, kry jy dalk ’n oulike beertjie of gesiggie wat vir jou glimlag op jou cappuccino.

Vir meer inligting oor Ginger & Fig, besoek gerus hul webwerf of skakel 012 362 5926.

Waar? Winkel Nr 5, Brooklyn Centre, 751 Jan Shoba Straat (voorheen Duncan), Brooklyn, Pretoria

Aroma Gourmet Coffee Roastery

Aroma is wydberoemd in Pretoria vir hulle koffie – so as jy ’n werklike wenner in jou koppie boeretroos wil proe, besoek gerus Aroma. Terwyl jy daar is, moet jy ook nie huiwer om hulle smaaklike Italiaanse roomys (of Gelato, eerder) te probeer nie – dit smaak tog soos liefde. En gelukkig vir jou is daar twee takke in Pretoria (in Hatfield en Silver Lakes), so jy kan kies waar jy jou boeretroos wil kry.

As jy graag meer wil weet oor Aroma en hul koffie, besoek gerus hul webwerf of skakel 012 362 3560 (Hatfield) of 012 809 2458 (Silver Lakes).

Waar? Hatfield –  Florents Heights, hoek van Lynnwood & Pienaar Str (Oorkant Hillcrest Boulevard)

Silver Lakes – 4 Graham Weg, Shere, Pretoria

Vintage Coffee

Deesdae is alles wat “vintage” is mos vreeslik gewild. En Vintage Coffee se lekker brousels is geen uitsondering nie. Snaaks genoeg, voel dit altyd heel nuut en modern as mens hier gaan soek vir ’n koppie boeretroos. En hulle koffie stel mens nooit teleur nie – dis altyd lekker en die verskeidenheid is ’n plus. Soos die Somer al nader wandel, stel ons hulle ys-koffie voor vir daardie warm dae. Wat Vintage Coffee veral spesiaal maak is hoe liefdadig hulle is – en jy word ’n deel daarvan. Met elke bestelling sal jy ’n interessante muntstuk ontvang wat jy dan kan wy aan een van hul organisasies. Hulle sal alles mooi verduidelik ook.

As jy meer wil uitvind oor Vintage Coffee, besoek graag hul webwerf of skakel 074 548 9339.

Waar? 323 The Hillside Straat, Lynnwood, Pretoria

Spout

Die hoogsgewilde Hazelwood area het altyd goeie dinge om aan te bied. En jy sal Spout definitief nie kan misloop nie. Wat werklik die oog vang op eerste blik is die twee skeepvraghouers wat opmekaar geplaas is. Die boeretroos by hierdie instansie is hemels en die uitsig is nogals bevange. Jy kan jou koppie koffie rustig geniet in een van hierdie houers terwyl jy die res van Hazelwood, en dalk ’n sonsak, gewaar.

As jy graag meer wil weet oor Spout, besoek gerus hulle Facebook Blad of skakel 082 465 6148.

Waar? Hoek van 16de Straat en Firwood Laan, Hazelwood, Pretoria

Ons hoop julle tref ’n smaaklike koppie boeretroos in die nabye toekoms. En vat sommer jou vriende saam, man! ’n Lekker koppie boeretroos word net beter in die geselskap van geliefdes. Waar kry jy jou beste boeretroos in Pretoria? Deel graag jou koffie-geheime met ons in die kommentaar.