Die beste melktert in Pretoria

Met broskors, skilferkors, of selfs korsloos; met kaneel, of sonder. Melktert is altyd ’n wenner. Dit is tog ’n trots Suid-Afrikaanse tradisie en ’n hemelse trooskos. Dus het ons besluit om bietjie ’n paar van die beste plekke op te spoor waar mens ’n heerlike melktert kan kry, want ’n stukkie melktert moet nooit misgeloop word nie. Hier is waar jy van die beste melktert in Pretoria kan kry.

Die Boeremark op ’n Saterdag

Waar beter om te begin? Die Boeremark is ’n natuurlike keuse in die soektoeg na ’n lekker tradisionele melktert. Jy kan seker wees jy sal altyd een hier raakloop en ’n langsame oggend by die Boeremark is darem altyd pret. So, klouter maar vroeg uit die kooi uit volgende Saterdag en gaan op ’n Boeremark-eskpediese vir die perfekte stukkie melktert.

Vir meer informasie oor die Pretoria Boeremark, besoek hulle webwerf, skakel 012 804 8031, of stuur ’n e-pos na ptaboeremark@tlu.co.za.  

Waar? 670 Krige St, Silverton, Pretoria. Ingang: Moreleta Straat // Uitgang: Krige Straat

Der Zucker Backer

Hierdie spoggerige duitse bakkery in Pretoria Oos slaan nogals ’n goeie melktert aanmekaar. Behalwe vir die melktert, sal jy hier allerhande varsgebakte soetigheidjies vind wat jou soettand sal laat glimlag.

As jy graag meer wil uitvind oor Der Zucker Backer, besoek gerus hulle Facebook blad of skakel 012 361 8244.

Waar? Menlyn Retail Park, op die hoek van Garsfontein Rd &, Lois Ave, Pretoria

Groenkloof Tuisnywerheid

Wat sou hierdie lys nou wees sonder ’n goeie tuisnywerheid? Daar is tog iets spesiaal aan die tuisgebakte smaak wat tuisnewerhede lewer. En laat ons nou eerlik wees, mens kan mos lekker smul aan ’n stukkie melktert wat deur die tannies by die Groenkloof Tuisnywerheid gebak is.

Vir meer informasie oor die Groenkloof Tuinywerheid, skakel gerus 012 460 9786.

Waar? Groenkloof Plaza, George Storrar St, Groenkloof, Pretoria

Queenswood Spar

Terwyl die Groenkloof Spar bekend is vir hulle Sally Williams Nougat (of so sal popmusiek mens vertel), is die Queenswood Spar se varsgebakte melktert ’n ware wenner. So, jy kan maar gerus ’n lekker melktert saam met jou kruideniersware in die trollie laai.

Vir meer informasie oor Queesnwood Spar, skakel gerus 012 333 7290.

Waar? Queens Corner, Soutpansberg Rd, Queenswood, Pretoria

Ons hoop die nabye toekoms sluit ’n smaaklike melktert en goeie samesyn in. Waar kry jy jou gunstelling melktert hier in Pretoria? Laat weet ons gerus in die komentaar hier onder.

By Tilana de Wachter