Die Beste Piekniek Plekke in Pretoria

Goeie nuus! Lente is so te sê om die draai. Oor ’n paar kort weke is die bome weer groen, die blommetjies weer aan die bloei, en die gras weer lekker sag. En is daar nou ’n beter manier om Lente te verwelkom as ’n bietjie pret in die son saam met jou geliefdes?

Pak solank daardie piekniekmandjie en kry jou kombersies reg, want ons het ’n paar pragtige piekniek plekke in Pretoria opgespoor waar jy ’n prettige piekniek saam met jou geliefdes kan hou.

Nationale Botaniese Tuine – Pretoria

Kyk, die Botaniese Tuine is altyd ’n wenner – veral vir ’n piekniek. Hier kan jy lekker rondstap en die Tuine verken totdat jy jou perfekte piekniek plekkie raakloop. Daar is nooit ’n tekort aan groen grasperke en skaduwee nie. Die Tuine spog met ’n magdom bome, plante, en voëls wat jy rustig kan aanskou. Beter nog is daar lekker baie plek vir die kinders om rond te hardloop en te speel.

Ingangsfooie loop R33 vir volwassenes, en R15 vir kinders. Daar is ook afslag vir studente met geldige studentekaarte, asook vir pensioenarisse. Kinders onder ses jaar kan die tuine vernie binne gaan.

Vir meer informasie oor die Botaniese Tuine in Pretoria, besoek graag hul webwerf, of skakel 012 843 5071.

Adres: Cussonia Avenue, Brummeria, Pretoria

Rietvlei Natuurreservaat

Rietvlei Natuurreservaat is ’n briljante keuse vir ’n uitstappie. Jy kan jouself en jou mense vir ’n rit deur die reservaat vat en die ryk dierelewe gewaar. Die reservaat is ’n tuiste vir Renosters, Sebras, Buffels en vele meer. Maak gerus ’n draai by die braai- en piekniekfasiliteite wat langs die Marais Dam geleë is. Die piekniekarea is goed versorg en jy kan gerus jou mandjie afpak, ’n vuurtjie aansteek, en  ’n middag van samesyn en lekker tand langs die dam geniet.

Vir meer informasie oor die Rietvlei Natuurreservaat, klik gerus hier of skakel 012 345 2274.

Adres:  14 Game Reserve Ave, Rietvallei 377-Jr, Pretoria

Die Voortrekker Monument

Vir ’n piekniek plekkie met ’n pragtige uitsig en ’n druppeltjie geskiedenis, stel ons die Voortrekker Monument se piekniekfasiliteite voor. Jy sal die piekniekarea binne die natuurreservaat in die park vind – dit is skoon, veilig, en goed versorg. Terwyl jy rustig piekniek hou, kan jy dalk gelukkig genoeg wees om wild te sien drink by die watergat oorkant die pad. En natuurlik lê die Voortrekker Monument net daar in die agtergrond – nou dit klink mos soos ’n bevange agtergrond vir ’n piekniek, of hoe?

Vir meer informasie oor die Voortrekker Monument, besoek gerus hul webwerf of skakel 012 326 0495.

Adres: Eufees Road, Pretoria

Faerie Glen Natuurreservaat

Ag, hoe lekker is Pretoria met al die natuurreservate wat so in die middel van die stad wegkruip? Die Faerie Glen Natuurreservaat spog met ’n groot piekniekarea wat jy kan geniet. Lê gerus jou kombersie neer of gryp een van die tafels (tafels is tog min, so pak maar ’n kombersie net vir ingeval) en geniet die omringende natuur. Faerie Glen Natuurreservaat het pragtige staproetes wat jy vooraf kan verken om jou eetlus op te bou. Daar is gereeld Sebras wat in die piekniekarea gaan wei, so jy kry dalk net een ekstra gas by. Die ingangsfooi is R11.

Vir meer informasie oor die Faerie Glen Natuurreservaat, besoek gerus die webwerf of skakel 012 358 1510.

Adres: January Masilela Drive, Faerie Glen, Pretoria

Lente wandel al nader en ons hoop jy gaan geniet ’n lekker piekniek in die son om dit te vier. Ons hoop jy kry die kans om goeie herinneringe te maak by van ons beste piekniek plekke in Pretoria. Waar is jou gunstelling plek om ’n piekniek te hou? En wat is ’n definitiewe moet-hê in jou piekniekmandjie? Laat weet ons gerus in die kommentaar.