|
Maraai: "Jirre, Nee! Ons sal vir ha moet afstowwe en half price merk, Madam. Sy birthday die djaar maak hom thirty. Hoekom sy kry nie die man nie? Isit omdat sy bietjie dik geword het, of dink Madam sy's die lesbian? 'n Man is dam 'n slegding. Onse arme Amber...so manloos en dan nog dik ok."
"Julle twee moet lekker oor my skinder! Ek hoor julle my hel!" Skreeu ek op die toppunt van my stem met 'n ondertoon van erge irritasie wat plek-plek deurskemer. Maraai: "Nonnie, djy's verniet so hans vanoggend…djy's nooit te oud vir 'n pakslae nie, dalk 'n bietjie dik vir een maar nie te oud nie", sê sy spottenderwys terwyl sy speels oogknip vir my ma wat haar verlustig aan iets wat soos 'n Nataniel toneelstuk moet voorkom.
Hier sit ek, 29, ag oraait, amper 30...dik, of so te sê dik en single. Jy weet mos as 'n mens by 'n lekker kommon familie troue 'n enkel sopie bestel en die kroegman is jou kleinnefie se bra wat iewers uit een of ander driehoek kom, dan skerts hy iets belagliks soos: "die singles is uitverkoop maar jy is in luck my bra, daar is nog baie dubbels oor." Dit word natuurlik gevolg met twee vinnige skote uit sy Dirty Harry handgeweer. Ek wonder hoekom was "single" nie uitverkoop toe ek bakhand gestaan het nie? "Dê, hier is vir djou 'n leka koppie boeretroos". Maraai druk 'n koppie koffie in my hand wat sy met liefde gemaak het. Ek lees op die beker in vet rooi letters: Be my Valentine. "Was dit nou nodig?" sê ek met 'n diep frons. Soos 'n swanesang bars al wat 'n omstaander is uit van die lag. Ten minste is my lewe entertaining. Ek's 'n professionele, single, 30 jarige hofnar. Great! Ek kyk vir Maraai waar sy op die bank sit. Een groot ronde mens. Spierwit tande en oë wat spreek van ‘n siel wat deur dinge is wat ek nooit sal verstaan nie. Binne haar lê 'n skatkis van liefde, ondervinding en kennis wat sy bereidwillig deel met enige een wat belangstel of die behoefte daaraan het. Ek staan op, gooi ‘n kussing op die vloer en maak my tuis by haar voete. "Vertel jy my nou wat jy van die liefde weet." sê ek terwyl ek met die afwagting van ‘n kind wat uitsien na ‘n slaaptydstorie vir haar staar. "Ai nonnie, watse advice gee djy nou vir 'n diva wat altyd van beta weet? Ek weet nie baja nie, maar ek weet net biiiieetjie iets. As djy hom lees, die Bybel, al glo djy nie...daai is die truth. Djy weet mos daai van love is kind, love is patient, love is beautiful, or something like that? Daai is die truth. Ek het groot geword binnekant by die shack. Ek het skooltoe geloop...baja ver geloop met die voete sonder skoene. Ek't min gehad, maar ek, ek was happy. Djy weet nonnie, djy moet eers binnekant by djo hart hart happy wees anders love will not be knocking at your door anytime soon. Ek, ek was baja happy. Toe die Here Hy stuur vir my, my se man. Die liefde kom mos soos die groot...djy weet mos wat ek wil sê. Djy maak djo plannetjie en djo lysies en djo geite, maar die liefde hy sal nie hoor nie. Myse man, Ooooeee, hy was lief vir my. Ek’t mos net een perfume gehad, musk nogals, en een lifpstiffie. As ek weet hy kom, dan ek sit aan daai lipstiffie en daai perfume en dan ek wag. En as hy kom, hy dink ek’s die mooiste en ek dink hy is die sterkste. Hy maak die jokes en ek lag, even if it isn't so funny you know. Hoekom? Omdat ek hom lief het by my se hart en omdat ek dit so gekies het." Ek het drome gehad en doelwitte gemaak toe ek in my twintigs was wat ek graag wou bereik voor die groot three oh! ‘n draai op my voorstoep kom maak het. Dit was immers nog so ver! Tyd het verby geflits en sommige drome is bewaarheid en sommige doelwitte bereik, ander weer nie. Maar ek het berustig daarby. Die een ding waaroor ek inderwaarheid nooit oor gewonder of getob het nie, het eers onlangs ‘n tingerige vingertjie in die lug gesteek om ‘n spreekbeurt te kry. TROU. LEWENSMAAT. VIR EWIG. Ek is ongetroud en single op 30 en word by elke blerrie familiebraai met skrefies oë beloer omdat daar sekerlik iets fout met my MOET wees dat ek nie ‘n man onder ‘n wip gevang kan kry nie. Dit bring my by my punt. Hoe het dit gebeur dat ‘n hele generasie of twee so radikaal getransformeer het dat alles wat eens as die norm beskou is vandag as taboe bekend staan? As jy vandag op 20 getroud is, is jy defenintief die klits kwyt, maar as jy nog ongetroud is op 30, verseker ‘n lesbian of gay. Prioriteit vandag is om onafhanklik te funksioneer, loopbaan georiënteerd te wees en jou vryheid te beskerm soos jy jou laaste pakkie sigarette versteek en verdoesel op ‘n Mosambiek vakansie (die van julle wat al noodgedwonge Pall Mall moes rook, sal weet wat ek hier bedoel). Ek is ‘n vrou en al die bogendoemde is vir my ook prioriteit. Ek weet ek is veronderstel om te droom oor my pragtige wit rok, uitnodigings met die fynste detail, kousbande, koeke en my arme bruidegom wat (teen sy wil) een of ander verspotte Franse dasknoop dra omdat dit MY dag is en almal weet meisies droom van hierdie oomblik vandat hulle kan loop (ons hoor mos die troumars in ons koppe en dit spoor ons aan om die eerste tree te neem) en NIEMAND sal dit vir my bederf nie, O.K.? Maar ek doen nie. Dit voel eerder of daar ‘n galg om my nek is, wat nog te sê ‘n dasknoop. Ek is bang vir so groot commitment. Ek meen, ek commit Maandag op ‘n dieët en teen Woensdag druk ek al wat ‘n lekkerny is in my kop in. Trou is vir ewig. Ek praat van etlike honderde jare. Vir die ouens daar buite…onthou jy toe die reën losgebars het in die Krieket Wêreldbeker en ons moes wag om te hoor of die spel sou voortgaan en of die Duckworth Lewis Sisteem geimplimenteer sou word? Dit het soos vir ewig gevoel, nie waar nie? Plus nog sewentig jaar daarby…dit is vir ewig. Ons het almal ons redes hoekom ons, onsself by hierdie non-commitment lot skaar. Geskeide ouers, mislukte eerste liefdes, slapgatgeid, gemak of die vrees vir die onbekende en die moontlikheid dat jy die grootste taak wat jy ooit sal aanpak deur jou foefenjol sal trek. Kies maar een van die bogenoemde of sit iets by as ek dit uitgelaat het. Ek sien die jonger generasie doen dinge nou anders. Dié trou nou vroeër omdat ek dink hulle sien dat onafhanklikheid en vryheid dalk gesorg het vir ‘n spul volwassenes wat adolosensie melk tot laat in hul dertigs, wat sosiale netwerk ‘n nuwe betekenis gee, wat vry in die bondel sonder enige verantwoordelikheid, wat ‘n dranktoleransie het wat selfs Bachus woordeloos kan laat, maar wie steeds alleen huistoe gaan en alleen wakker word. Wat Sondae by ons ouers deurbring omdat ons andersins skeurbuik sal opdoen weens wanvoeding en breinaalde in ons oë sal druk omdat eensaamheid aan ons siele kom kou wanneer ons na ‘n olimpiese suipsessie’n verantwoordelikheidsaanval uit die hel uit beleef (en met ons bedoel ek, ek en jy). Miskien is Koos Dup se woorde juis hier sterk van toepassing... "en ek dink en ek drink teen die soeter, pyn teen die groter dors". Wie sal weet? Dit is oggend. My dag word begroet met die reuk van tuisgebakte beskuit en moerkoffie. Die vars vroeë oggend lug huppel by my venster in en bring ‘n dag gevul met nuwe uitdagings en geleenthede met dit mee. Dit is ‘n lafenis vir my siel en los my binneste met ‘n gevoel van tevredenheid. Maraai se woorde rol kompleet soos ‘n tolbos op ‘n karoopad in my gedagtes rond: "En as hy kom, hy dink ek’s die mooiste en ek dink hy is die sterkste. Hy maak die jokes en ek lag, even if it isn’t so funny you know. Hoekom? Omdat ek hom lief het by my se hart en omdat ek dit so gekies het." Kan dit so maklik wees? Is hierdie beskrywing van die liefde met sy kompleksiteit nie net in sy eenvoudigste vorm gestel nie? Vry van die moets en moenies, vry van vooropgestelde idees van wat ons dink ons nodig het, vry van trosts wees en vry van vrees om ‘n kans te waag op liefde wat in opsig self ‘n groot risiko is. Ek is ‘n loskop en tot ‘n mate effens rebels. My siel het vlerke en vlieg net waar die wind my waai. My ore hoor net wat by my aanklank vind en die stemme van die harte van mense wat vir my dierbaar is. Ek is passievol en impulsief en ek kyk met minagting na risiko in geheel. My pa sê ek laat hom dink aan die Franse rubyspan. My game plan is opportunisties en innoverend, ek jaag "brilliance", "poise" en "flair" in elke situasie na, geen mens sal eendag my kinders se name kan uitspreek nie, egte leer skoene is vir my belangriker as water, en ek hardloop die bal vanaf enige posisie op die veld omdat ek glo daar ‘n kans is om iets spectacular te skep uit niks uit nie en die idee daarvan elimineer eenvoudig die vrees vir risiko en mislukking. In teenstelling hiermee kry ons die mens wat die Rugby Reëlboek verteenwoordig. As dit nie vir reëls was nie, was daar nie ‘n game nie. hierdie mense bepaal eers die risiko en sit dan prosesse of reëls in plek om die spelers te beskerm en die risiko te verlaag of te elimineer. Hierdie mense weet bv. wat 8 x 9 is en nie dat blou en rooi pers maak nie. Van die os op die jas. Vir die van julle wat soos ek, in die tweede kategorie val, 8 x 9 = 72 en 9 x 8 ook). Of jy nou Frédéric Michalak of die voorsitter van die Rugby Reëlboek Kommitee is, daar is een ding wat beide in gemeen het. Alhoewel risiko verskillend benader word, wil nie een van hierdie partye seerkry nie. Daar is risiko in albei benaderings. Gelukkig het dapperheid niks uit te waai met linker- of regterbrein denkpatrone nie maar met pure guts - wat dan hopelik glory tot gevolg het. Daar is iets omtrent wakker word langs iemand vir wie jy waarlik lief is wat eenvoudig nie in woorde omskryf kan word nie. Om ‘n hand uit te steek na die anderkant van die bed en ‘n liggaam daar te voel wat jy weet jou waarlik bemin of om ‘n wakker-word-soentjie op die voorkop te kry om die dag te begroet. Dit is iets spesiaals. Maar wat ook spesiaal is, is wanneer ons nie onsself laat definieer deur ‘n verhouding nie, want ek en jy weet dat geen ander mens jou kan gelukkig maak as jy nie kies om self gelukkig te wees nie. Single wees is ‘n ongelooflike vrugtevolle seisoen in ‘n individu se lewe. Seize it en kies om jouself te leerken en sodoende gelukkig te maak. Vir die van julle wat wel in die seisoen van liefde en moontlike commitment staan wil ek aanmoedig om nie die spontaniteit uit dit uit te wurg deur alles te oor analiseer nie. Vir my lê die geheim tot ware liefde en geluk in keuse. Dit is nie ‘n emosie nie maar ‘n kognitiewe besluit om iemand lief te hê en vir iemand lief te bly vir die res van jou lewe. Kies geluk eerste, kies die liefde, kies commitment en kies om te glo dat daar altyd hoop is vir iets moois om soos ‘n groot...jy weet wat ek wil se, te kom wanneer jy dit die minste verwag! Glory to those who dare to risk! Later we speak...Amber x |