Lekker Braai Plekke in Pretoria

Braai is mos ’n fees en ’n gunstelling Suid-Afrikaanse tydsverdyf. Die samesyn, die atmosfeer, en die lekker aroma van ’n tjoppie of twee op die vuur… Dit is ’n geliefde Suid-Afrikaanse tradisie en is een van die dinge wat ons almal kan saambring. Elke dag kan braaidag wees as jy so voel.

Rietvlei Natuurreservaat

’n Braai by die huis is lekker gemaklik, maar soms wil mens bietjie wegkom van die dag-tot-dag roetiene en iewers anders gesellig raak. As jy ooit die gier kry om ’n lekker braai-uitstappie te vat, is jy op die regte plek. Ons het ’n paar top publieke plekke opgespoor waar jy en jou tjomme ’n vuurtjie kan stig en ’n bobaas braai kan hou. Laai solank die hout, tjop, en dop in die kattebak – hier is ’n paar goeie publieke braai areas in Pretoria.
Rietvlei Natuurreservaat

Rietvlei maak vir die ideale braai-uitstappie saam met jou mense. Die reservaat spog met pragtige wild en ’n spoggerige piekniek area volledig met braaifasiliteite. Die piekniekarea is prentjie mooi en lê langs die Marais Dam. By rietvlei kan jy sommer in jou eie tjor ’n wildsrit ervaar en ’n lekker aptyt opbou terwyl jy die Renosters, Cheetas, Buffels en vele meer dierelewe gewaar. Bring maar daai verkykers ook , want rietvlei het pragtige voëls vir die van julle wat voëlkyk geniet. Pak gerus die mandjies en geniet ’n prettige dag saam met jou geliefdes met ’n braai langs die dam. Jy kan meer uitvind oor die huidige ingangsfooie hier.

Vir meer informasie oor die Rietvlei Natuurreservaat, klik gerus hier of skakel 012 345 2274.

Adres: 14 Game Reserve Ave, Rietvallei 377-Jr, Pretoria

Groenkloof Natuurreservaat

Daar is geen twyfel dat Groenkloof Natuurreservaat ’n gunstelling publieke braaiplek onder Pretorianers is nie. By Groenkloof kan jy amper vergeet dat jy nog in die middel van die stad sit – dit is ’n spoggerige lokaal omring deur pragtige natuur. Daar is ’n klomp vermaaklike aktiwiteite soos stap, wildkyk, perdry, en fietsry wat jou lekker honger sal maak. Jy kan ’n lekker braai reel by die reservaat se braai- en piekeniekfasiliteite. As jy ’n meer formele kuier wil reel, is daar ook ’n lapa om te huur. Groenkloof is ’n lieflike plek vir ’n dag vol pret en ’n braai saam familie en vriende. Vir meer informasie oor die huidige ingangsfooie, klik hier.

Vir meer informasie oor Groenkloof Natuurreservaat, klik geus hier of skakel 012 358 1757 / 082 703 7766.

Adres: Christina De Wit Ave, Road, Pretoria, 0027

Nkwe Pleasure Resort

So net-net op die buitewyke van Pretoria langs die Pienaarsrivier, lê daar nog ’n aangename publieke braai area in die Nkwe Pleasure Resort. Die oord aanvaar dagbesoekers en spog met pragtige braai- en piekniekfasiliteite vir dagbesoekers om te geniet. Daar is ’n vermaaklike klouterraam vir kinders, asook ’n swembad om in af te koel gedurende die warm somersdae. Die omringende natuur is pragtig en daar is selfs ’n waterval en rotspoele om the vind terwyl jy die oord verken. Dit is ’n praglokaal vir ’n lekker lui dag en ’n smaaklike braai. Daar is ’n snoepie-winkel wat oop is tydens naweke waar jy koeldranke en soetgoed kan koop. Troeteldiere en musiek word nie toegelaat in die area nie. Vir meer informasie rakende die ingangfooie, klik hier.

Vir meer informasie oor Nkwe Pleasure Resort, skakel gerus 012 811 5231 / 083 309 6516 of besoek hul webwerf.

Adres: Nkwe Rd, Tierpoort, 0056

Wonderboom Natuurresrvaat

Wonderboom Natuurresevaat is geskiedenisryk, pragtig, en vol interessanthede vir jou en jou geliefdes om te verken. Die reservaat het goeie braai en piekniekfasiliteite so teen die berg en is omring met beeldskone natuur. Die reservaat spog met ’n beroemde 1000-jaar-oue vyeboom, ryk dier- en plantlewe, en vele meer. Jy kan ’n lekker staptog geniet om al die interessanthede waar te neem voordat jy begin braai. Vir meer informasie rakende die huidige ingangsfooie, klik hier.

Vir meer informasie oor die Wonderboom Natuurreservaat, skakel gerus 012 543 0981, of klik hier.

Adres: Wonderboom, Pretoria, ±300m vanaf die R101

Hennops

Hennops is ’n lekker kamp-oord op die buitewyke van die stad wat voorsiening maak vir dagbesoekers met hul harte (en hul mae) gemik op ’n braai. Die oord sit langs die Hennopsrivier en spog met twee swembaddens vir besoekers om te geniet, en stap en bergfiets aktiwiteite word in die ingangsfooi ingesluit – so pak maar daai fietse of stapskoene. Die oord is ook ’n tuiste vir ’n beroemde hangbrug wat in 1932 gebou is, en al in merere films verskyn het. Vir meer informasie oor die huidige ingangsfooie, klik hier. Dit is belangrik om in ag te neem daat daar geen kaartfasiliteite is nie, en ook geen winkel of restaurant nie – so pak maar daardie dinge wat jy vergeet het ook. Troeteldiere en musiek word nie toegelaat in die oord nie.

Vir meer informasie oor Hennops, skakel gerus 082 825 9205 of besoek hul webwerf.

Adres: S 25°47’53.173″ E 27°59’23.574″ – afdraai op die R511.

 

Is jy nie nou sommer net lus vir ’n ou braai nie? Ons hoop julle smul gou aan ’n sappige stukkie braaivleis by een van hierdie bobaas publieke braai areas in Pretoria. Nooi al jou gunstelling mense en steek gerus ’n vuurtjie aan, man – ons gaan NOU braai! Wat is jou gunstelling ding van braai? Laat weet ons geus in die kommentaar.