|
Written by Amber
|
|
Monday, 01 November 2010 08:57 |
|
Ek staan en bewonder ’n bloedrooi appel by ’n klein groentestalletjie te Hazelwood Food Market. Dis ’n pragtige somersdag in Pretoria en my ligpers wintersvel verwelkom die son se warm omhelsing. Ek neem ’n diep asemteug en verlustig myself aan die reuk van jakarandas, tuisgebakte brood en die omie langs my se Old Spice aftershave. Hmmm, soet herinneringe vul my wese en ek dink terug aan die dae toe ek gehoop het ’n jakaranda tref my kop en bring daarmee dalk ’n onderskeiding of twee saam. Ek onthou die aroma van my ouma se dik-kors witbroot wat die huis op Oudtshoorn se kamers vul en jou onwillekeurig lok na die kombuis wat reeds uitgepiets is met plaasbotter en appelkooskonfyt; en dan onthou ek my trotse pa wat vroegoggend in die gang afloop, gestort, geskeer en ge-Old Spice. Vir my as negejarige dogtertjie was dit ’n knieë lam oomblik...ek dink ek was eerlikwaar verlief op hom.
Die Griek-smous by die stalletjie ruk my terug na die werklikheid met ’n breë glimlag en ek sien hoe sy lippe my met ’n kompliment beloon. “You are such a beautiful girl, more beautiful than this apple...take it. For you, for free!” Steeds in ’n dwaal sien ek my mondhoeke wat omkrul van lekkerkry in die refleksie van die appel. Ek sê dankie, hap summier ’n stuk uit die appel en oortuig myself dat die smaak van hierdie spesifieke appel soeter is as enige van sy voorlopers. Miskien juis omdat dit as geskenk aan my gegee was. Ek is seker dat die hele mensdom dieselfde sentiment deel wanneer dit kom by iets verniet kry in die lewe. Hier is vir julle ’n klassieke voorbeeld: Buy one get one free. Hierdie maak perfek sin wanneer jy ’n student is en die promosie is van toepassing op alkoholiese verversings. Maar het jy jouself al in ’n situasie bevind waar jy winkel toe is met die missie om net ’n maskara te koop en dan uitstap met ’n hele velsorgreeks, net om die klein parfuumpie en die miniatuur lipgloss as geskenk te kry? Jy lieg; jy het. ’n Goeie vriend van my se geliefde gesegde is: “werk is nie lekker nie, maar ons doen lekker goed met die geld”. Vir meeste van ons is hierdie gesegde waar, maar net tot om en by die 15de van die maand. Teen hierdie tyd het al die lekker jou salaris uitgemergel en lê daar 15 dae van (jou nuwe Diesel) belt styftrek oor. Hier is Amber se weergawe van die “Sunscreen Song” vir dié van julle wat voel dat iets gratis jou toekom. Die lekker ding hiervan is dat jy jou eie upbeat melodie in jou kop soos agtergrond musiek kan uitdink terwyl jy dit lees.
- Wys die Suiderkruis met jou vinger uit vir iemand wie jy liefhet.
- Glimlag vir mense; veral die wat nie terug lag nie
- Gee jou beste pel ’n high 5 wanneer die Hoëveld reën weer Pretoria seën
- Gaan skenk bloed. Die koekies en koeldrank na die tyd is verniet
- As jy nie tyd het om by ’n petrolstasie jou voorruit te laat was nie, stop by die kruising van Atterbury en Lois en ’n bereidwillige helper sal dit vir jou doen. NS: Effektiwiteit word nie gewaarborg nie.
- As jy gelukkig genoeg is om nog jou pa te hê, druk hom styf teen jou lyf vas sodat sy aftershave aan jou afsmeer. Jy sal dit mis as hy nie eendag meer hier is nie.
- Gaan kyk ten minste een keer ’n straatwedren op ’n Sondagaand in Voortrekkersweg.
- Geniet die sonskyn maar onthou die sonskerm. Indien jy nie jou eie het nie, vra ’n aantreklike jong man of dame of van hulle s'n aan jou rug te smeer.
- Huppel
- Vra vir afslag. Die ergste wat kan gebeur is hulle kan “nee” se.
- Indien jy op ’n Saterdag lus is vir ’n daguitstappie kan jy die N4 snelweg neem tot jy die Puma Rugbyspan se tuisgrond aan jou linkerkant gewaar. Stop langs die pad en roofkyk ’n rugby game.
’n Artikel uit my pen; want jy is snaakser en meer spesiaal as enige iets wat ek ooit kan uitdink. Daarom se ek: “for you, for free!!”
Tattatjies Amber x |