Pretoria.co.za

Newsletter - Subscribe

Receive monthly updates about everything in Pretoria. Its free!

Pretoria Weather

°C currently
  • °C °C

  • °C °C

  • °C °C

Banner
Home > Pretoria Blog > Amber > Die tye het verander
Die tye het verander
Written by Amber   
Wednesday, 05 January 2011 12:21

Daar word bespiegel deur my familie en vriende dat, indien reïnkarnasie wel bestaan, ek verseker ‘n selfoon in my vorige lewe was. So ook, is sommiges van mening, dat indien jy byvoorbeeld ‘n hoender was in jou vorige lewe, jy in jou huidige lewe ‘n intense liefde vir hoenders sal hê. Nou ja, dit verduidelik dan sekerlik my liefde en noue band wat ek snoer met my eie persoonlike foontjie. Ek wil sover gaan as om te erken dat daar ‘n romantiese verhouding tussen ons bestaan! Dit klink dalk vir jou verregaande, maar laat my toe om ‘n paar vergelykings te tref en sodoende hierdie konsep vir jou in perspektief te plaas. Kom ons vergelyk mans met selfone. Sekerlik het die meerderheid van julle al meer as een verhouding met ‘n man gehad, so dit behoort maklik te wees om jouself te vereenselwig met die volgende:
My eerste selfoon was ‘n Nokia 33Brick-brick (O.K. ek kan nie die ding se korrekte kode onthou nie, maar dit was een van daardie baksteenfone met die antennas). Hierdie selfoon was lomp, stadig en het konstant uitgesny en sodoende kommunikasie belemmer. Ek was onhandig met die ding en teen die tyd wat ek die antenna met my tande uitgetrek het en die groen knoppie gedruk het, was alles reeds verby. Klink bekend, nie waar nie? Maar tog was dit heerlik om die outjie te hê. Loop sommer so non-chalant in die straat af en babble (natuurlik in ‘n gesprek met jouself, want niemand anders wat jy ken besit ‘n foon sodat jy hulle kan bel nie) windmakerig om te wys jy het ook een. Dit was dalk nie die perfekte maat vir jou nie, maar ons het nie van beter geweet nie en word hiervoor vergewe.

Kort voor lank het ‘n nuwe model sy verskyning op die mark gemaak. Dit was ‘n Ericsson. Kyk, ‘n mens hop mos nou maar rond tussen tipes, maar ons skryf dit toe aan onkunde en omdat ons kan eksperimenteer. Hierdie selfoon was meer kompak en die beste deel was dat jy hom kon customise tot hy by jou persoonlikheid pas. Ek móés hom net hê, ek was met eerste oogopslag dolverlief. Aan die begin was hy betroubaar en alles van buite was sag op die oog en in orde, maar voor jy kon se “serial-cheater-boyfriend”, begin die foon met sy streke – gekruisde lyne. Jy is nog so ewe lekker besig om te gesels en grappies te maak, en die volgende oomblik pop daar ‘n ander stem in die gesprek op. Natuurlik doen jy jou bes om dit te ignoreer maar dit ”hallo”, “hallo” so aan die anderkant dat jy gedwing word om die feite in die oë te staar, jouself oorgee aan melktert en voor jy sien weeg jy 10kg swaarder. ‘n Mens kan nou seker vir ure bespiegel of dit nou die derde party se skuld, die netwerk of jou eie foontjie wat foutief gedraai het se fout was, maar die waarheid bly dat dit tyd was om dié een te ruil vir ‘n nuwer model.

Ek was salig onbewus van wat op die mark beskikbaar was, toe mense my voortdurend voorkeur en my peper met versoeke om my aan BlackBerry voor te stel. My eerste reaksie was dat ek nie seker is of my pa dit sou goedkeur nie, maar ek stem in om ten minste net ‘n ogie te gooi. Aanvanklik was ek skepties, want hierdie bulletjie het heeltemal anders as sy voorlopers gelyk; hy het soveel meer funksies en diepte. As jy iets nie weet nie, google jy dit; as jy vinnig 'n geselsie wil aanknoop, BlackBerry Message (BBM) jy; as jy wil pret hê, speel jy games en wanneer jy verlang, is daar die opsie om na goeie kwaliteit fotos te loer wat met ‘n flash geneem is. Ek is mal oor my BlackBerry…ek bêre hom in ‘n sakkie omdat hy meer spesiaal is en sodat hy nie verniel nie. Ek waardeer en geniet die goeie sein, simplisiteit en betroubaarheid wat hy vir nou by my lewe voeg en ek is dankbaar daarvoor.

Dit bring my by my tweede punt. Dat ek opreg lief is vir my BlackBerry (die foon, nie die man nie) is sowaar so, maar dat ek ‘n behoefte het aan aangesig-tot-aangesig interaksie met regte vlees en bloed mense, is ook so. Ek self is sekerlik een van die grootste sondebokke. Ek is konstant besig om kontak met die wêreld daar buite te maak, ongeag of ek alleen is, of in die geselskap van ander mense. Dis juis a.g.v. my eie oortreding dat ek besluit het om ander mense in sosiale omstandighede dop te hou om sodoende te bepaal watse invloed ons selfone op ons sosiale gedrag het.

Na ‘n geruime tyd van observasie, het ek tot die volgende slotsom gekom. Uit al die selfoon-gebruikers, word BlackBerry liefhebbers by verre die meeste beïnvloed deur hul selfone aangaaande sosiale gedrag. Ons almal het verhuis na BlackBerry eiland iewers geleë tussen Ongeskik en Onbedagsaam en indien ons ‘n keuse gegun word, sou ons net daar in ons gemaksones wou vertoef en nooit terugkeer na Planeet Aarde toe nie. Maar elke nou en dan het ons ‘n ete-verpligting met ons vriende, ‘n rugbywedstryd van ons kinders of ‘n kwaliteit tyd aand met ons geliefde, wat ons forseer om die eiland te verlaat en vir ‘n oomblik in die realiteit te kom kuier. Op BB eiland werk dinge ongelukkig anders. Hier word jou gees gyselaar gehou en jou vlees word aarde toe gestuur bloot om jou te verteenwoordig. Sodra jy dink jy geniet die geselskap, word jy gebombardeer met een van vier (in my geval, SMS, BBM, e-pos en Facebook) kerm geluidjies wat jou in kennis stel dat iemand van BB eiland of die kuberruimte opsoek is na jou. Te danke aan jou goeie opvoeding, besef jy dat dit verkeerd is om nou jou foon voorkeur bo jou geselskap te gee, so jy ignoreer die deuntjie en gesels voort…maar dan maak die hipnotiserende rooi liggie sy verskyning! Jy kan aan niks anders dink nie. Die mense rondom jou klink asof hulle onder water praat en die rooi liggie se polsende flikker, klop in jou ore…doef-doef! Doef-doef! Uiteindelik is die versoeking net te groot en voor jy jou kan keer, lyk dit of jou duime op Rittelin is soos hulle inderhaas ‘n boodskap aanmekaar flans.

Die interessantste is wanneer twee of drie BB gebruikers saam die eiland verlaat om iets te ete te kry vir die vlees. Ons verstaan mekaar en is blykbaar doodgelukkig om gelyktydig doenig te wees met ons fone terwyl ons kort-kort opkyk, knik (net om die illusie van belangstelling te skep) en dan met ‘n diep gesetelde opgewondenheid vir mekaar te lees wat die of daai ge-BBM het. Ek sien deesdae dat BlackBerry gebruikers dit as hulle verantwoordelikheid beskou om mede-BlackBerry gebruikers summier attent te maak van die feit dat hulle liggie flikker, net vir ingeval hulle (met die genade van Bo) dit dalk misgekyk het. Dit raak ‘n sirkus! In ‘n onlangse meningspeiling, het 8 uit 10 van my vriende aangedui dat indien hulle rook of hul BB’s (Facebook ingesluit) moes opgee vir ‘n week, dit rook sou gewees het. Hierdie, in opsig self, behoort ‘n aanduiding te wees van die global uhm…krisis wat ons in die oë staar. Ek het lank hieroor nagedink en besef dat die onus rus op ons, die verbruikers, om terug te keer na aanvaarbare sosiale gedrag – waar bedagsaammheid, respek en konsiderasie die hoofrolle vertolk – en waar jou onmiddelike geselskap voorkeur geniet (en verdien) bo tegnologie. Ek daag jou uit om jou selfoon af te skakel en vir ‘n verandering 100% teenwoordig te wees in die geselskap van mense wat werklik moeite gedoen het om jou te sien en tyd saam jou te spandeer. Dis ‘n doelbewustelike besluit, dis ‘n verantwoordelikheid, dis self-dissipline en ongelukkig is dit verpligtend! Dis Januarie en tyd vir ‘n nuwe begin. Indien jy besluit om in 2011 ‘n verandering te maak, laat dit wees om weer ‘n kultuur van geselligheid en respek onder mekaar te kweek!

Cheers, Pavlov se honde!
Amber
X

 

Comments 

 
0 #1 Pol GS 2011-10-04 18:35
Hi Amber,
Your text is so beautifull and indeed full of wisdom. Can I write in Dutch? I love the AFrikaans but can't write. So if you agree I love to comment in Dutch.
 

Please login to post a comment

Check out these websites
Tuks FM. Your music. Your capital.
 
 
 
Pretoria.co.za
SA Web AwardMyGateVisa Mastercard
 
All rights reserved 2013 © PRETORIA.co.za