|
“Daar mag nie spot gedryf word met die dooies nie” sal mense prontuit en met oortuiging kwyt raak. Ek wonder baie oor hierdie stelling. Hoekom nie, wil ek altyd weet? As ek grappies gemaak het met hierdie persoon toe hulle nog geleef het, hoekom moet dit nou verander? 'n Ander klassieke voorbeeld is: “jy moet respek hê vir die dooies”. Noem my maar 'n nool, maar vir my is dit meer belangrik om respek te hê vir iemand terwyl hulle nog ons aardbol bewoon. Verlede maand het ons koebaai gesê vir my oupa na 'n lang lewe van byna 80 jaar. Lekker rus my oupa! My geliefde moeder was aan stuur van die reël van die begrafnis en ek, haar sidekick, het deur al die emosies, verskille en reëlings gewilliglik saam gepiekel en drukkies en soentjies uitgedeel om die seer te probeer verdryf. 'n Mens se tong en woorde AWOL mos sodra die doodstyding te voorskyn kom.
Ek sit toe my beste voetjie voor en probeer my bes om alles 'reg' te sê en simpatiek te wees. In 'n poging om bystand te verleen vra ek ewe onskuldig of my oupa se lyk van die lykshuis af dan na die afslaers vervoer sal word. Ja, jy het reg gelees...afslaers instede van begrafnis-ondernemers. En daar gebeur dit toe; ons almal bars uit van die lag en die trane loop.
Maar die keer nie omdat ons treur nie maar omdat ons tog, midde van al die hartseer, die humor kon sien, kon gryp en kon omhels! My ondervinding en konfrontasie met die dood en alles wat daarmee gepaard gaan het my laat begin dink oor wat ek graag sal wil hê op my begrafnis. 90% van ons besluite het gewentel om wat ons dink my oupa graag sou wou hê. Van die begrafnisbladjie, na die blomme, na die Psalms en die Gesange. Vir een of ander rede is hierdie nie 'n onderwerp wat mens bespreek oor 'n lekker glas wyn of by 'n braai voor die Bulle die Stormers aanvat nie. Al wat ons geweet het is dat my oupa se wens was om veras te word. Om die waarheid te sê dink ek nie eers my oupa self sou weet watse blomme hy van hou nie. Soos ek hom ken sou hy doodgelukkig gewees het met watookal sy gesin besluit het.
Dit laat my toe dink, miskien moet ek 'n checklist optrek vir my begrafnis. Ek sal tot sover gaan om kontaknommers by te sit om die proses te vergemaklik. My wense is eenvoudig:
- Gee vir my 'n cheap kis van plain pine hout waarop my vriende en familie 'n boodskap kan skryf.
- Vra my vriendin wat verf om vir my blomme op die kis te verf want regte blomme vrek anyway
- Kies 'n foto vir my begrafnisbrief waarop ek lekker maer lyk en verkieslik waar ek tussen my pelle en my familie staan. My lewe is my mense en julle los my nie 'n hel alleen in my dood nie..
- Gee vir die mense goeie sjampanje, lekker kos en poeding; maar maak seker daar is genoeg sjampanje want my vriende ken 'n goeie party wanneer hulle een sien.
- Sê vir die mense wat nooit van ver af gekom het om vir my hallo te sê nie, dat hulle ook nie nou van ver af hoef te kom om koebaai te sê nie.
- Maak grappies oor my...dit sal my doodmaak (o.k. slegte woordkeuse) as julle nou moet stop.
- Veras my.
- Strooi my as in die Weskus sodat julle bietjie kan vakansie hou.
- Gaan eet by Muisbosskerm en klink 'n glasie op my lewe!
Dit bring my by my laaste punt. Keer op keer sit en luister ek na huldeblyke op begrafnisse. Ek besef dan dat sodra jy jou laaste asem uitblaas jy wonderbaarlik verander in 'n saint. Iemand wat net goed gedoen het vir ander en nooit foute begaan het nie. Wat 'n smul-lekker gedagte! Maar ek wonder hoeveel mense hierdie aarde verlaat sonder om ooit die geleentheid te kon hê om te hoor hoe lief hul geliefdes hulle gehad het en hoe fantastiese mens hulle in die oë van hul familie en vriende was. Hoekom wag ons tot ons geliefdes yskoud en gevoelloos in 'n houtkis lê voor ons die moeite doen om hulde aan hulle te bring? Dit is juis terwyl ons bloed deur ons are loop, ons harte lewenslustig klop en ons daagliks met 'n reeks gevoelens gekonfronteer word, wat ons 'n huldeblyk die meeste nodig het en sal waardeer. Dit is wanneer 'n huldeblyk nie 'n eindpunt is nie maar die begin-punt van bemoediging en motivering om vol te hou met die lewe waarmee ons besig is.
April vier 'n klompie van ons Paasfees. Sommige van ons hou net lekker vakansie terwyl ander 'n huldeblyk van waardering en dankbaarheid bring aan 'n Geliefde wat die grootste daad van liefde betoon het deur te sterf vir 'n groter doel! Vir my is dit 'n tyd van stilwees; 'n tyd om dankbaarheid te betoon vir iets ver bo wat my menslike verstand ooit kan begryp. Dit is 'n tyd van liefde en waardering vir die mense wat ek die naaste aan my hart hou en dit is tyd om huldeblyke te skryf terwyl hulle nog almal dit kan hoor.
Wees lief, waardeer en koester jou liefie-mense. Sê dit hardop en se dit weer; en weer, en weer. en laastens, maak seker jou begrafnispolis is gesort, maar dan weer, dit is anyway nie jou probleem nie ;)
Liefde, Amber |