|
Liefde is een van daardie konsepte wat soveel dimensies en vorms kan anneem. Vir elkeen van ons beteken liefde iets anders. Daar is natuurlik die liefde tussen man en vrou (Eros), die liefde vir jou naaste (Phileo) en die liefde vir God (Aghape), maar dan reken ek ook dat daar ’n liefde is vir aardse goed (nie noodwendig materialisties nie) wat ’n bepalende factor speel in die kwaliteit van jou lewe en die vorming van jou leefstyl.
Gedurende die afgelope (amper) 31 jaar van my lewe het ek ’n magdom dinge lief gekry en toe weer met ouderdom en wysheid my liefde teruggeneem. Ek was al lief vir laataand partytjies, drankies en my drinkebroer vriende Nou kyk, op daardie stadium was ek van mening dat ons twee (ek en my liefde vir kuier) gemaak was vir mekaar. Maar wanneer my oë in die oggende oopgegaan het en ek begroet was met ’n babbelaas uit die hel uit, het ek ernstig begin twyfel. Terwyl ek my wonde lê en lek het in ’n donkerkamer, het ander mense met die liefde vir byvoorbeeld die buitelewe, lank reeds ’n heerlike ontbyt genuttig en al 3 olifante, 1 leeu en 23 rooibokke in die Kruger Wildtuin ge-spot.
In teenstaande hiermee het ek ook al ’n liefde vir ’n gesonde en gespierde liggaam ontwikkel. Matigheid voor oë het nog nooit vir my sin gemaak nie. Ek hel of na die een kant of na die handerkant toe. Vroegoggend sou jy my met ’n bak ongesuikerde oats met piesing in die hand betrap het. Na dit het ek my liggaam se vet persentasie in die bekwame hande van my spiertier personal trainer geplaas vir ’n uitmergelende uur van oefening. 10:00 het ek ge-shake, 13:00 groente en hoender geëet, 16:00 kardiovaskulêre oefening gedoen en 18:00 weer ge-shake. Tussen hierdie belaglike skedule moes ek my beste gee om al rukkende en bewende nog op my werk ook te konsentreer, dit natuurlik te danke aan die fat trap/cut/burn produkte wat ek vier op ’n slag met ’n muscle recovery drink afgesluk het sodat ek more oggend weer fris en vars kon aantree vir ’n volgende martelende oefensessie waarvoor ek R250 per uur opgedok het.
Een van my huidige liefdes wat ek daagliks koester is die liefde vir rook. Ja, ek kry skaam om dit te sê. Deesdae rook ek elke oggend 10:00 my “heel laaste” sigaret. Gmff. Of jy nou rook of nie rook nie, jy sal kan vereenselwig met my volgende storie. Ek het tot die slotsom gekom dat ’n liefde vir rook ALLE besluitneming beïnvloed. Hierdie liefde laat stap my telkemale verby top gehalte restaurante na my goeie en getroue vriend, Baobab met ’n ruim rookarea op die boonste verdieping. Dit veroorsaak dat die The Grove Mall my nie met ’n oog sal sien nie en dat ek die Wimpy se miniatuur rookkamers op elke lughawe reg oor die land uitsnuffel. Ek het nou bepaal dat die mees gevraagde ding op rokers se lippe “kan mens daar rook?” is. Dis belaglik. En indien daar nie rookgeriewe is nie, sal jy ons soos ’n klomp noolkope buite in -10°C op die stoep gewaar, waar ons besig is om sommer twee vinnige sigarette na mekaar te rook om die marteling van nog ’n minus vriespunt rooksessie so lank as moontlik uit te stel.
Wat het jy lief? Wat bepaal jou sosiale gedrag, jou karakter en jou leefstyl? Ek het oor hierdie vrae gaan nadink en met ’n lys van dinge wat ek liefhet vorendag gekom. Ek bedinges myself want ek weet dat ek aan die einde van hierdie artikel dalk ’n gevolgrrekking oor myself sal kan maak waarvan ek nie bewus was nie. Hier is dit:
- Ek het onlangs ’n innige liefde ontwikkel vir ’n skoon swembad. Die van julle wat in beheer is van een sal my pyn met my deel.
- Ek is lief vir die somer se warm dae en ’n glas Haute Cabrière Chardonnay Pinot Noir.
- My werk vereis dat ek SA plat toer en ek love dit. So lekker soos dit vir my en my vriendin is om nuwe plekke te sien, is dit vir ons soveel lekkerder om Pretoria binne te ry. Ek het ’n groot liefde vir hierdie stad. Die mense, die jakarandas, die klimaat, die Titans, Woodlands Mall, Rhapsody’s en my kêrel se huis.
- Ek het ’n liefde vir die lewe, vir gesondheid, vir geluk en vir geleenthede.
- Ek was onlangs in Orania. Dit was ’n ondervinding en dalk ’n ontnugtering terselfde tyd. Die mense is fluks daar, hoor! Self arbeid is so te sê hulle leuse. Dis toe dat ek besef ek is hopeloos te lui vir daardie leefstyl en het ’n groot liefde vir my Anna.
- Ek is heeltemal mal-versot-lief op die Franse Ope en op Rafael Nadal.
- Die lewe is te kort om vonkelwyn te drink. As jy iets wil vier, doen dit asseblief met Franse sjampanje...my liefde lê by Veuve Clicquot.
- Ek het my ouers nou meer lief as ooit tevore. Hulle is heelwat cooler as wat ek ooit kon dink en ek koester die lewenslesse wat hulle vir my geleer het en steeds leer “al is ek nie meer ’n kind nie.”
- Ek is lief vir my broer en steeds verbaas dat my skoonsus na byna 16 jaar steeds vir hom ’n innige liefde het. Grappie. Geluk met julle 16de huweliksherdenking op 10 Junie julle twee!
- Wie ookal hy/sy is, ek is die liefste vir die mens wat maskara ontwerp het.
- Ek is lief vir mense...veral vir dié wat nie lief is vir hulself nie.
- Ek is lief vir sop en varsgebakte brood.
- Ek is lief vir die stilte en die natuurskoon van die Weskus.
- Ek is lief vir lepellê.
- Ek is lief vir ’n man wat lief is vir die dinge in die lewe wat saakmaak.
- Ek is ongelooflik lief vir my haarkapper.
- Ek is lief vir Woolworths, Adidas en egte leer skoene.
- Maar bo alles het ek ’n liefde vir liefhê. Vir my is dit die grootste geskenk wat aan ons gegee is en wat ons weer kan gee. Liefde oorwin werklik alles. Liefde bedek werklik alles, maar liefde was bedoel om mooi, goed en regverdig toegepas te word.
Maak seker dat dit wat jy lief het jou lewe vir die beter verander. Wees lief vir die dinge in die lewe wat saakmaak en koester dit dan daagliks. Gee ’n helpende hand aan die om jou wat liefde nodig het, en doen dit met die regte intensie en ’n oop gemoed.
Die winter is hier en ons het baie om voor dankbaar te wees. Wys jou liefde deur komberse, blikkies kos en jou tyd te gee aan minderbevoorregdes en laat die lig van liefde soos ’n kombers oor ons pragtige stad val.
Baie liefde, Amber |