|
Ek was altyd een van daardie meisies wat die vrouens van professionele sportmanne en besigheidsmanne wat konstant weg van die huis af werk, jammer gekry het. 'n Vriendin van my het op 'n stadium 'n kêrel gehad wat in die Kaap gebly het en selfs toe het ek gewonder of sy die klits kwyt geraak het. Hoekom wil jy jouself daardeur sit? Die werk wat reeds in 'n "normale" verhouding ingaan om hom gesond en lewenslustig te hou, is genoeg om meeste van ons uit te put, wat nog te sê met iemand wat duisende kilometers weg is?
Nou ja toe, nes die lewe toe is, slaan ek vir myself 'n kêrel los wat in Nigerië, "the armpit of Africa" (soos hy dit noem) woon en werk. Dit kom daarvan as mens so arrogant wil wees om te sê "nooit" nie (in my geval, "nooit ooit" nie). Aanvanklik het ek gedink ek is verseker die enigste meisie op die planeet wat myself in hierdie tipe van langafstand gevryery bevind, maar soos hulle sê "birds of a feather, flock together" en het ek bevriend geraak met almamaters van dieselfde spesie. Twee van my vriendinne se mans werk ook in Nigerië en die ander een toer die wêreld en is tans weer in Engeland. 'n Ander pel van my was aan die begin van sy verhouding in Amerika en na net ses maande op dieselfde kontinent en dorp as sy beminde, moet sy Bloemfontein toe vir 'n werksgeleentheid.
In die hedendaagse ekonomiese klimaat waarin ons onsself bevind, wil dit vir my voorkom of al hoe meer langafstand verhoudings hul verskyning maak. Dit is grotendeels die toedoen van politieke invloede wat dit bemoeilik vir veral wit, Suid-Afrikaanse mans om bevordering en sukses in hul beroepe te bereik. Vir hierdie rede is 'n oorsese aanbod 'n trekpleister omdat die geleentheid gewoonlik te goed is om van die hand te wys. Vir die van ons wat agterbly (meisies/vrouens) lyk die prentjie ietwat anders. Ek is oortuig dat die aanpassing vir ons 'n groter challenge is as vir die person wat vertrek. Vir iemand soos ek wat net weet hoe om 'n Word dokument oop te maak, was die eerste groot uidaging om my tegnologiese kennis op te skerp. Dis toe dat ek my eerste kennismaking met 'n oulike program, Skype, gemaak het. Nou kyk, in konsep en op papier klink Skype na 'n fantastiese produk. Jy kan lank praat, jy kan mekaar op video sien en dit is verniet (behalwe nou vir jou internet konneksie). Maar maak Skype jou primêre kommunikasie-middel en ek waarborg jou jy sal met tye dit oorweeg om jou rekenaar in sy moo-moo te gooi uit frustrasie. Nommer 1 is jy te bang om jou gesig hoegenaamd en al te beweeg, uit die vrees dat jou Skype beeld dalk mag vries en jy gelaat word met die uitdrukking van 'n gestremde varkhond op sy skerm. Wanneer jy uiteindelik handdoek ingooi en die "visuals" prysgee sodat die "audio" ten minste van 'n hoer gehalte kan wees, word jy beloon met een of ander fudged-up Robocop stem en voel jy tempted om te vra hoekom de hel hy dink dis snaaks om in 'n waaier in te praat!
Daar is ook die aanpassing om te besef dat jou geliefde 'n lewe lei waarvan jy niks weet of verstaan nie. In my geval was ek in 18 maande nog nooit in sy wêreld nie. Ek hoor stories van mense wat ek nog nooit gesien of ontmoet het nie, ek hoor van plekke wat ek nie ken nie en ek word vertel van uitdagings in die nuwe land waarme ek glad nie kan assosieer en so dan nie kan simpatiseer nie. Mens voel so bietjie verwyderd en selfs uitgelaat met tye. Ten minste kon ek ook 'n nuwe beste maat maak...my selfoon. Dié is van die oomblik wat hy op die vliegtuig klim, aan my vasgeplak. Nou ignoreer ek goeie selfoon etiket en sms maar in geselskappe en ander sosiale geleenthede. My standaard antwoord wanneer ek aangespreek word oor my telefoon etiket is: "Sharrap, my kêrel bly hier binne!" Probeer dit gerus, dit werk soos 'n bom!
MAAR DAN...nes jy dink jy wil moed opgee en die liefde van jou lewe verruil vir een of ander loser wat ten minste in dieselfde dorp as jy bly, dan land daai aerie en hy stap deur die deur en druk jou styf teen sy lyf vas waar alles weer sin maak en waar jy onthou hoekom jy bereid is om hierdie opoffering te maak. Daar is natuurlik ook die lekker kant van 'n langafstand verhouding. Ons kry die geleentheid om "me-time" te hê en dit te spandeer soos ons wil. Ons fokus op ons werk, ons kuier saam ons vriendinne en familie, en ons het die DSTV kontrole vir onsself! BIG BONUS! Ons leer mekaar ken op 'n heel ander manier omdat ons moet staatmaak op kommunikasie, ons kan in 'n sms optel wat die ander person se gemoedstoestand is, ons kry MMS'e met oulike opskriffies om ons deel te laat voel van hul lewens en ervarings. Ons leer om te vertrou en om mekaar individuele geluk en avonture te gun; en wanneer ons mekaar weer sien....oooeee, wanneer ons mekaar weer sien...was die wegwees van mekaar soos 'n tonic vir ons verhouding!
Ek weet dis sleg om alewig die derde wiel aan die wa te wees, om alleen bed toe te gaan in die aande, om te leer hoe om 'n tyre te ruil en om 'n verhouding met jou rekenaar te hê...maar meeste van hierdie mans streef 'n droom of 'n doelwit na en doen dit vir die welvaart van hul families. So, komplimenteer maar wanneer hy moeite doen en motiveer maar wanneer sy spirit laag is; en sien uit na die finale terugkoms wanneer julle weer dieselfde kontinent kan bewoon en wanneer jy gaan wens hy net vir een week weer 'n sakereis wil aflê.
Opgedra aan Geelstert*, my langafstand kêrel. Sien jou hierdie maand!
Amber |