|
Daar is 'n gesegde wat lees "met die ouderdom kom die wysheid". Die gedagte hiervan is soet en een wat bly maal in my kop en nie tot rus wil kom nie. Die idee hiervan is nie net soet nie, maar ook vertroostend. Die begin van dieper lyne langs my mond en om my oë, vertel dat ek besig is om wysheid op te doen, en vinnig ook. Ek het gedink dit sou makliker wees om ouer te word. Dat dinge meer sin sou maak, dat ek my liggaam 100% sou aanvaar, dat verhoudings sou stabiliseer, dat liefde sou seëvier en geluk aan die orde van die dag sal wees.
Vir my is dit asof vrees 'n groter rol begin speel in my lewe soos ek die jare byvoeg. Ek is al deur genoeg om te weet wat op die spel is. Ek onthou, nie te lank gelede, toe ek vars uit hoërskool gestap het en reg was om die wêreld by die horings te pak. Niks om te verloor nie, alles om te wen. Nie bang vir 'n mens, 'n situasie, 'n gebroke hart, finansiële terugslae of siekte nie. Hoe lekker was daai gevoel om tot alles in staat te wees nie? Nog vasbeslote om 'n verskil in hierdie wêreld te maak en ‘n legacy agter te laat.
Hoe ouer mens word, hoe meer vervaag die gedagte van 'n nalatenskap en word dit met tye oorskadu deur die behoefte om te oorleef. Drome word uit die pad geboelie deur realiteit. Ek het nooit gedink ek sou 'n siniese uitkyk op die lewe hê nie, maar ek het. Het jy al ooit 'n prentjie oor jou fisiese voorkoms in jou kop gehad en wanneer jy voor die spieël gaan staan en vir jouself kyk, ontnugter die realiteit jou? Ek is baie "hotter" in my kop as in die spieël...dieselfde beginsel tel vir die idee wat ek oor oud word gehad het.
Twee van my vriendinne beleef tans dieselfde transformasie as ek. Hulle is vasbeslote om 'n boek te skryf getiteld “Lassie is toe dood”. Met hierdie boek beoog hulle om die waarheid te ontbloot en die mites van die lewe hok te slaan. Natuurlik met 'n tong in die kies aanslag. Onder andere raak hierdie boek aan die volgende lewenskwessies: “Die ridder op die wit perd bestaan nie” (jammer meisies), “geld maak jou gelukkig”, “uiterlike skoonheid tel” en “aanhouer wen nie, hy maak net sy naam gat”. Poef! Weg is die voorreg van naiwiteit. As jy onder 30 is en opstandig voel na jy die inhoud hierbo gelees het, verstaan ek. Dit is jou reg om so te voel. As jy bo 30 is en kon vereenselwig met ietwat van 'n glimlag op jou bakkies, dan voel ek verlig dat ek nie die enigste ontnugterde mens op die aardbol is nie. Die lewe gaan waragtig in 'n oogwink verby. Ek kyk terug op amper 31 jaar en ek kan nie glo ek het so min gedoen gekry nie. Terselfdertyd kan ek ook nie glo hoeveel daar al gebeur het nie. Ek is oortuig dat die Here vir ons kinders gee om ons eerstens te besig te hou om te dink aan al die drome wat nie waar geword het nie en al die geleenthede wat deur die vingers geglip het. En tweedens om ons van vooraf 'n kans te gee om alles oor te doen. Om harder te swot, om meer buite te speel, om ouer mense te respekteer en om goeie keuses te maak. Ek maak 'n punt daarvan om bejaarde mense twee vrae te vrae. My eerste vraag is om uit te vind wat die resep tot 'n suksesvolle huwelik is en die ander vraag is om uit te vind wat die grootste lesse te leer in hierdie lewe is.
Onlangs het ‘n tannie van 94 vir my die volgende geantwoord op my eerste vraag:
- Moenie kwaad gaan slaap nie
- Wees geduldig met mekaar
- Moenie fyngevoelig wees nie
- Onthou dat alle goeie dinge tot ‘n einde moet kom (na aanleiding van haar geliefde man se dood 15 jaar gelede)
Op my tweede vraag was haar antwoord:
- Leef ‘n vol lewe en wees gelukkig met wat jy het, maar weet net dat die lewe ongelukkig ook ‘n hand of twee hartseer inhhou.
Dit het my laat dink aan die raad wat ek iemand sou gee indien hulle my gevra het wat die waardevolste lesse is wat ek tot dusver geleer het. Ek het nie ‘n boekrol vol antwoorde nie, maar hier is wat vir my uitgestaan het:
- Kies jou vriende versigtig
- Beskerm jou hart met alles in jou
- Vertrou stadig
- Bou elke dag aan jou verhouding met jou ouers
- Waardeer gesondheid
- Wees selfsugtig met jou tyd en wend dit eerstens aan om jou eie drome te bewaarheid, maar help waar en hoe dit vir jou moontlik is.
- Niks in hierdie lewe is soos jy verwag het dit gaan wees nie. Jou kinders gaan jou mal maak met tye, die huwelik is toe harde werk, en selfs na 30, 40 of 50 leer jy jouself steeds ken.
- Hou vas aan geloof, hoop en liefde want dit is al wat jou sal dra deur hartseer asook geluk.
Ek verstaan nou hoekom oumense so maklik huil wanneer jy met hulle praat. Na 'n vol lewe van geluk, liefde en hartseer is hulle heeltemal ontbloot en naak gelaat deur dit waardeur die lewe hulle gesit het. Maar nog nooit het ek met 'n oumens gepraat wat gesê het dat hulle die lewe verafsku het nie. Nog elkeen het met 'n glimlag vertel dat die lewe 'n voorreg en 'n belewenis was.
So hou aan droom, want geen mens sal dit maak om net in realiteit te leef nie; en onthou dat alle dinge tot 'n einde kom, selfs die sleg en die hartseer.
Liefde, Amber
|